Agri SA erg bekommerd oor listeriose-uitbraak in Suid-Afrika

Possible La Niña during the 2017/18 summer season
December 7, 2017
South African Agricultural Commodities Weekly Wrap
December 8, 2017

Agri SA erg bekommerd oor listeriose-uitbraak in Suid-Afrika

Die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, het op 5 Desember 2017 aangekondig dat meer as 30 mense reeds gesterf het as gevolg van die onlangse uitbreking van die siekte listerellose, wat deur besmette kos oorgedra word.

Volgens die Nasionale Instituut vir Aanmeldbare Siektes (NICD) is ongeveer 557 gevalle aangemeld en die meeste daarvan is in Gauteng.

 Listeria is ‘n bakterie (Listeria monocytogenes) wat in grond, water en plante voorkom. Dit kan ook in sommige diere voorkom, byvoorbeeld pluimvee en beeste. Ongepasteuriseerde melk en ander voedsel wat daarmee vervaardig word, kan ook die bakterieë bevat. Die siekte kan nie versprei word deur kontak met besmette persone nie.

 Volgens Janse Rabie, hoof van Natuurlike Hulpbronne by Agri SA, wys die onlangse uitbreking van listerellose hoe uiters kwesbaar alle mense is waar dit besmetting van ons natuurlike hulpbronne, veral grond en water, betref.

 Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) moet mense mediese behandeling kry indien hulle die volgende simptome ervaar:

  • Koors
  • ‘n Stywe nek
  • Verwarring
  • Algemene swakheid
  • Braking (soms vooraf gegaan deur diarree).

 Behandeling van listerellose is gewoonlik simptomaties en hang af van hoe siek die pasiënt is. Indien die infeksie ernstig is, word die gebruik van antibiotika moontlik aanbeveel. Mense met ‘n verswakte immuunstelsel, ouer volwassenes of swanger vroue mag dringende mediese sorg benodig.

 Voorkomingsmaatreëls sluit die volgende in:

  • Vermy ongepasteuriseerde melk of voedsel wat ongepasteuriseerde melk bevat
  • Handhaaf goeie higiëne, byvoorbeeld om gereeld hande te was en kos in `n skoon omgewing voor te berei
  • Sorg dat diereprodukte soos vleis, pluimvee of vis deeglik gaar is
  • Let op die vervaldatums van bederfbare voedsel.

 Agri SA neem voor om enige hulp te verleen aan die NICD en die departement van gesondheid om die oorsprong van die siekte uit te roei.